Folmer Boekhandel
Die Boekuitgewers

          (Sedert 1978)         

Herder van Angola
-HG van der Westhuizen

Herder van Angola is ‘n biografie van ds Paul van der Walt. Dit vertel die verhaal en skets die aangrypende lewensgang van hierdie “begenadigde maar beproefde” man. Maar dit is nie net ‘n biografie nie. Dit is ‘n stuk geskiedenis oor Angola. Dit vertel van die agtergronde, lotgevalle, geskiednis, landskap en mense van hierdie waterrykste land in Afrika. En dit vertel nuut en vars die geskiedenis van die mense wat mekaar hier in Angola op die lyf geloop het: Portugese, Angolese, Afrikaners.
Maar dit is ook ‘n kerkgeskiedenis van Rooms-Katolieke, van Gererformeerdes en Hervormers.

R100

Johannes Hus

- HG van der Westhuizen


Die skrywer van hierdie boekie lewer met hierdie werkie inderdaad ‘n kosbare bydrae om die Afrikaanse leser met die persoon, lewe en werk van ‘n grootliks onbekende en feitlik vergete figuur uit die geskiedensis van die kerk nader te laat kennis maak. Op die wyse maak hy ‘n greep uit die kerkgeskiednis, wat in die tweede helfte van die 14e eeu en die begin van die 15e (1415) in Bohem, Wes-Europ, afgespeel het, meer toeganklik vir Afrikaanssprekende lesers van die 21ste eeu. Deur aan te toon op watter wyse Hus wel as voorloper van die Kerkhervorming beskou kan word, word aan hom die erkenning verleen wat dikwels vergete bly.


R50

Tussen Hamer en Aambeeld 1


- Algemene Kerkgeskiedenis tot 1300

- Dr. Jan W. Meijer

Dit is ‘n lees- en leerboek om in gesinne, by kategese, op skool en studieverenigings te gebruik. ‘n Leesboek wat in ‘n deurlopende verhaal ‘n eerste kennismaking met die kerkgeskiedenis bied. Maar terselfdertyd ook ‘n leerboek waarin talle uitstappies onderneem word. Hierdie uitwydings – perspektiewe genoem – bevat verdere inligting oor persone en gebeurtenisse; daarin word verbindingslyne na voorafgaande of latere gedeeltes getrek, en verder word daarin so nou en dan ‘n klip in die bos gegooi. Dit word gedoen om die kerkgeskiedenis nie net as ‘n verhaal oor die verlede te hanteer nie, maar om dit ook op die hede te betrek. ‘n Diskussie na aanleiding van die kerkgeskiedenis help om die eie tyd en stryd te verstaan. Dikwels word ons eie vorme en gewoontes as normatief hanteer, terwyl daar geen werklike grond vir die standpunt is nie. Dit beteken nie dat die gewoontes daardeur veroordeel word nie, maar dit is wel gesond om die relatiewe waarde daarvan te besef. Dit behoort ons des te meer te prikkel om die kerkgeskiedenis verder te bestudeer.
(DBU publikasie)

Tussen Hamer en Aambeeld 2


- Die Reformasietydperk
- Dr. Jan W. Meijer

In hierdie tweede deel van “Tussen Hamer en Aambeeld” word die kerkgeskiedenis verder vertel. Omdat die verhaal eenvoudig verder gaan, is die hoofstuknommering ook voortgesit. Die jaar 1300 is min of meer die skarnier tussen deel 1 en 2. Dit is gedoen omdat omstreeks hierdie tyd die eerste tekens van verandering en die eerste pogings tot reformasie plaasvind. Die Middeleeue begin einde se kant toe te staan. Renaissance, Humanisme en Reformasie is van die sake wat tot ’n groot omwenteling lei. Om die verhaal van die Hervorming teen die regte agtergrond te vertel, begin ons omstreeks 1300.
In hoofstuk 9 word, soos in die eerste deel, ’n redelike lang tydperk behandel. Daarna is die indeling van deel 2 grotendeels tematies. Die Hervormers kry aandag en daarna die Hervorming in verskillende gebiede. Ook die teenstand teen die Hervorming en die tydperk direk na die Reformasie kom aan die orde. Die Duitse Piëtisme en die sendingwerk van die 18de eeu sluit hierdie deel af. Die kerkgeskiedenis van die tydperk tussen Renaissance en Franse Rewolusie word in hierdie tweede deel behandel.
(DBU publikasie)

Tussen Hamer en Aambeeld 3


- Die Moderne Tyd

- Dr. Jan W. Meijer

In hierdie boek, deel 3 van die reeks, word ‘n oorsig gegee van die moderne tyd. Dit is ‘n baie wye veld en dit lyk asof hier nie by die oorspronklike uitgangspunt – dat ons keuse van onderwerpe bepaal word deur wat van betekenis is vir die gereformeerde gelowige in Suid-Afrika – gehou word nie. Maar gereformeerde gelowiges in Suid-Afrika leef nie op ‘n eiland nie. Die globalisasie, wat ‘n direkte uitvloeisel is van die ontwikkeling van die Westerse kultuur in die moderne tyd, gaan nie aan ons land en ons huise verby nie. Die oorvloed van inligting wat deur moderne kommunikasiemiddele beskikbaar gestel word, stroom ook ons huise en lewens in. En dit is daarom vir ons van belang om die bronne en agtergronde daarvan te leer ken. Daar is baie sake wat “Christelik” genoem word maar wat ‘n suiwer humanistiese uiting is. Die moderne teologie is getuienis daarvan. Maar ook die reaksie op die doodsheid in die kerke kan nie sommer positief waardeer word nie. Met alle goeie bedoelings staan die outonome mens by hierdie reaksie ook in die middelpunt. Die moderne tydgees het sy tienduisende binne en buite die kerke verslaan. Hoewel daar in hierdie deel dus min sake met betrekking tot die ontwikkeling van die gereformeerde lewe ter sprake kom, is die inhoud wel deeglik van belang om die gees van die tyd te kan verstaan.
(DBU publikasie)

Tussen Hamer en Aambeeld 4


- Suid-Afrikaanse Kerkgeskiedenis
- Dr. Jan W. Meijer

In hierdie laaste deel van die reeks word die Suid-Afrikaanse kerkgeskiedenis behandel. By die behandeling hiervan geld dieselfde uitgangspunt as in die vorige dele: aandag word gegee aan dié sake wat vir die gereformeerde gelowige in Suid-Afrika van betekenis is. Die onderwerpe wat behandel word, het dus betrekking op die kerke wat hul geskiedenis terugvoer tot, of verwant is aan die kerk wat deur die koms van die Nederlanders in 1652 in Suid-Afrika gevestig is.
Dit is nie net by die begin van ons eie kerkgeskiedenis wat ‘n band met die Nederlandse kerke duidelik word nie, ook in die verdere verloop van die geskiedenis is daar telkens sprake van direkte invloede vanuit die Nederlandse kerkgeskiedenis. Om hierdie agtergronde goed te verstaan, word aandag gegee aan gebeurtenisse en ontwikkelinge in die Nederlandse kerke waar dit op ons eie geskiedenis betrekking het.
Aangesien ons die beginpunt vir hierdie deel in 1652 neem, val ‘n groot deel van die Suid-Afrikaanse kerkgeskiedenis dus binne die tydvak van die moderne tyd. Daar word dan ook meerdere male verwys na inligting uit deel 3.

(DBU publikasie)

So Wyd soos die Wêreld


- 'n Kort geskiedenis van die ontstaan van die Christendom

- Dr. Jan W. Meijer

Die Christendom is oor die hele aarde bekend. Daar mag dalk nog enkele plekke wees waar die evangelie nog nie, of onvoldoende, deurgedring het nie, en in ander lande het ná die kerstening ook ontkerstening ingetree, maar in die algemeen het die Woord van God die eindes van die aarde bereik. Hoe die proses van verspreiding van die Christendom plaasgevind het, is minder bekend. Ons ken name soos Paulus, Bonifacius en miskien ook Xaverius, Nommensen of Moffat, maar insig in die 2000-jarige proses van verkondiging ontbreek dikwels. Tog is kennis daarvan vir die gelowige ’n goeie saak.
In die Openbaring aan Johannes verseker Jesus ons tot vier maal toe dat Hy spoedig kom. En nou, omtrent 2 000 jaar later, het Hy nog steeds nie gekom nie. Dit lyk teenstrydig maar dit is nie die geval nie. Die woord spoedig of haastig laat ons in die eerste plek dink aan ’n kort tydsduur, maar daar is ook ’n ander betekenis in die woord. Dit kan ook gebruik word om aan te dui dat met alle insette aan die voltooiing van ’n taak gewerk word. Geen oomblik word vermors nie en alles moontlik word ingespan om die taak af te handel. Die geskiedenis van die verspreiding van die evangelie oor die aarde heen is die verhaal van hierdie geweldige inspanning, opoffering, toewyding en martelaarskap waarmee die werk gedoen word. Jesus is haastig om sy koninkryk te openbaar, maar dit is ’n saak van inspanning, intensiteit en stryd. Hierdie boek wil ’n eerste kennismaking bied met dié indrukwekkende verhaal. Geen mens is in staat om die geheelbeeld te verstaan of weer te gee nie, maar selfs die sterk vereenvoudigde weergawe beïndruk ’n mens.
(DBU publikasie)
R270
Van Ballingskap tot Verstrooiing

Hooflyne in die geskiedenis van Israel
van ±600 v.C. tot ±150 n.C.

- Dr. Jan W. Meijer


Hierdie boek wil ’n kort oorsig bied van die belangrikste aspekte uit die geskiedenis van Israel tussen die ballingskap van ongeveer 600 jaar voor Christus tot die fi nale verstrooiing van Israel meer as 100 jaar ná Christus. Behalwe die bepaalde tydperk van die onderwerp is daar nog ’n tweede beperking: Daar word gefokus op die deel van die Joodse volk wat in die land Kanaän gewoon het. Die Jode wat in Mesopotamië, Egipte en ander gebiede gebly het – hul getalle moet nie onderskat word nie – kom slegs ’n enkele keer aan die orde. Hierdie boek bevat geen Bybelse geskiedenis nie, maar gee – so ver bekend – die agtergrond en die ontwikkeling van die Joodse geskiedenis oor die genoemde tydperk. Daar word uiteraard oor profesieë, persone en gebeurtenisse wat ook in die Bybel vermeld word, gepraat. In sulke gevalle word die Bybelse gegewens nie volledig oorvertel nie maar kortliks vermeld of deur middel van die betreffende Bybelgedeeltes aangedui. Die kennis oor hierdie tydperk is baie beperk. Dit bestaan hoofsaaklik uit skriftelike bronne wat nie altyd betroubaar is nie en gegewens wat deur opgrawings bekend geword het. Dit maak geskiedskrywing ’n ingewikkelde saak. Jaartalle is dikwels moeilik om vas te stel, selfs die opeenvolging van gebeurtenisse kan in die bronne verskil. In dié geval is die mees waarskynlike of algemeen aanvaarde mening in hierdie oorsig gevolg. ’n Ander probleem is dat daar deur opgrawings heel wat bekend is.

(DBU publikasie)

R85

Rolspelers by die Reformasie
- Dr Jan W. Meijer

By herdenkings van belangrike historiese gebeurtenisse, soos byvoorbeeld Reformasie 500, word die aandag onvermydelik op die leidende figure gerig. Hervormers, pouse en konings, wat hulle gedoen het en wat die gevolge van hul optrede was, word dan voor die voetlig gebring. Dit is verstaanbaar dat die hoofrolspelers die aandag trek, hul optrede het immers die loop van die geskiedenis verander. Maar daar is ook ander persone, minder opvallend, maar tog die moeite werd om in herinnering te roep. Daar was in die Reformasietyd groot voorgangers, martelare en geloofshelde, maar daar was ook eenvoudige gelowiges wat, dikwels naamloos, getrou hul bydrae gelewer het. Daar was ook twyfelaars, mense wat vir martelaarskap weggeskram het; en dan was daar hulle wat die evangeliese leer slegs ten dele gevolg of na hul eie behoefte misvorm het. Daar was ook dié wat die Reformasie teengestaan het en hul pogings om dit te bestry het juis ander mense tot die insig van die waarheid gebring. Dikwels is hul geskiedenis swak gedokumenteer sodat dit vandag moeilik is om ’n volledige beeld daarvan te vorm. Partykeer is daar uitgebreide informasie en kan ons onsself in die situasie inleef. Van al hierdie rolspelers by die Reformasie wil hierdie boekie ’n aantal na vore bring sodat die verhaal van die kerkhervorming meer diepte mag kry. Die groot verskeidenheid en onderlinge verskille mag toon dat mensverheerliking geen rol gespeel het by die keuse van onderwerpe nie. Daar is wel gepoog om verskeidenheid te handhaaf en ook meerdere streke van Europa te betrek.
(DBU publikasie)

R130
Op die stoel van Petrus
'n Oorsig oor die geskiedenis van die Pousdom

- Dr. Jan W. Meijer



Die pous van Rome is bepaald nie ’n onderwerp wat onder Protestante algemene belangstelling geniet nie. So nou en dan kom die pous in die nuus en sal ons met ’n mate van nuuskierigheid kyk. Die huidige pous Franciskus kom selfs redelik simpatiek oor. En het hy ook nie ter geleentheid van die herdenking van die Reformasie welwillende opmerkings gemaak ten opsigte van Luther en sy optrede nie? Sommige mense was selfs hoopvol dat ’n gesprek met Rome moontlik kon realiseer. Wat sou ons in ’n dergelike gesprek aan die orde stel? Stellig sake soos die Roomse mis, die leer van die sakramente, die verering van Maria en die heiliges, die leer van die goeie werke, die vaevuur en so meer. Genoeg stof vir ’n ernstige debat! Dit is selfs nie onmoontlik nie dat Rome op sekere punte bereid sou wees om afwykende menings te akkommodeer. Binne die wêreldwye Roomse kerk is daar tog reeds heelwat variasie. Die Roomse kerk in Suid-Amerika verskil in baie opsigte van die kerk in Wes-Europa en op die missieterreine van Rome word baie verdraagsaamheid toegepas ten opsigte van heidense gewoontes, waarom dan nie ter wille van die Protestante nie! Daar is egter één punt waaraan Rome onwrikbaar vashou: die posisie, rol en verhewenheid van die pous. Hy is die hoof van die Christenheid, of die nie-Roomse gelowiges dit nou erken of nie. Wat die Roomse kerk betref is die erkenning van die pousdom ’n absolute voorvereiste vir enige betekenisvolle gesprek.Wat is die agtergrond en ontwikkeling van hierdie pousdom? .... Die gevolgtrekking is duidelik, die toekoms van die kerk lê slegs in absolute gehoorsaamheid aan die onfeilbare Woord van God. Daarin is die toekoms seker, want Christus bewaar sy bruid tot die einde toe.
(DBU publikasie)
R85